Multilingual Folk Tale Database


Information

Author: unknown author

Translated into Afrikaans

Based on Ananse eni Akekrehemaa

Country of origin: Ghana

Story type: The Fox and the Crane Invites Each Other (ATU 60)

Translations

Afrikaans - aligned

Aragonese - viewaligned

Basque - viewaligned

Catalan - viewaligned

Danish - viewaligned

Dutch - viewaligned

English - viewaligned

French - viewaligned

Galician - viewaligned

German - viewaligned

Italian - viewaligned

Judaeo-Spanish - viewaligned

Mapuche - viewaligned

Neapolitan - viewaligned

Nzema - viewaligned

Occitan / Aranese - viewaligned

Portuguese - viewaligned

Russian - viewaligned

Spanish - viewaligned

Venda - viewaligned

Zulu - viewaligned


Add a translation

Anansi die gulsige spinnekop en die waterskilpad

Een aand het Anansi die spinnekop gaan aansit vir ’n heerlike aandete. Net toe Anansi die eerste happie in sy mond wou sit, hoor hy ’n klop aan die deur. Hy maak die deur oop en daar staan Waterskilpad. Hy lyk baie moeg. Waterskilpad sê: “Anansi, laat my asseblief inkom. Ek het baie ver geloop vandag en ek is moeg en honger.” Maar Anansi was te selfsugtig om sy aandete met enigiemand anders te deel. Toe dink hy aan ’n nare plan. Net toe Waterskilpad aan tafel gaan sit en sy hand na die kos uitsteek, gil Anansi vir hom: “Waterskilpad, kyk net hoe vuil is jou hande! Jy kan nie met sulke vuil hande eet nie! Gaan was hulle.” Waterskilpad se hande was vuil want hy het die hele dag geloop. Daarom het Waterskilpad stadig rivier toe gekruip en sy hande gewas en toe weer moeisaam teruggekruip na die tafel toe. Intussen het Anansi begin om die kos op te eet. Teen die tyd dat Waterskilpad teruggekom het, was die kos byna op. En net toe Waterskilpad gaan sit, begin Anansi weer gil: “Waterskilpad, jou hande is nog steeds vuil! Gaan was hulle weer!” En hulle was vuil want Waterskilpad het op hulle teruggekruip van die rivier af. Waterskilpad het hartseer opgestaan en weer sy hande gaan was.

Teen die tyd dat Waterskilpad die hele ent pad teruggesukkel het, was daar nie meer kos oor nie. Waterskilpad kyk toe na Anansi en sê: “Baie dankie dat jy my vir ete genooi het. As jy ooit naby my huis verbykom, kom eet asseblief by my.”

Nouja, mettertyd het Anansi die spinnekop al hoe meer gedink aan Waterskilpad se belofte om vir hom kos te gee. Hy loop toe eendag teen middagetetyd oor na Waterskilpad se huis toe die son nog hoog bokant die rivier sit. Waterskilpad het op ’n klip in die son gelê en bak soos waterskilpaaie graag doen. Toe Waterskilpad vir Anansi sien, sê hy: “Hallo daar, Anansi! Het jy by my middagete kom eet?” En Anansi antwoord: “Ja, dit sal baie lekker wees, dankie.” Hy was besig om al hoe hongerder te word.

Waterskilpad duik toe in die water in. Anansi wag op ’n klip op die oewer. Gou daarna kom Waterskilpad weer op en sê: “Reg, Anansi! Alles is nou gereed. Kom eet asseblief by my.” En toe duik Waterskilpad af en begin die groen blare eet wat hy vir aandete geniet. Anansi het probeer om na die rivierbodem af te duik, maar hy is ’n spinnekop, nie ’n waterskilpad nie, en hy kon nie so diep duik nie. Hy het elke keer weer na die oppervlak gedryf. Hy het probeer om in te spring, hy het ingeduik, maar niks het gehelp nie. Hy kon net eenvoudig nie by daardie kos kom nie.

Uiteindelik het Anansi ’n plan gekry. Hy het ’n klomp klippe in sy jas se sakke gepak tot hy swaar genoeg was om tot op die rivierbodem te sink. Daar sien hy Waterskilpad se tafel vol sappige groen blare en baie ander heerlike kosse.

Maar net toe Anansi sy hand uitsteek na daardie heerlike kos, stop Waterskilpad hom en sê: “Anansi, jy gaan tog sekerlik nie met daardie jas aan sit en eet nie? Dis nie hoe ons in hierdie huis maak nie.” Toe trek Anansi die jas uit. Maar sonder die klippe in die sakke om hom onder te hou, het hy weer na die rivieroppervlak gedryf en soos ’n prop uit die water geskiet.